Nuusbrief - November 2008

In hierdie nuusbrief word ABBO-nuus vertel van gebeure sedert Julie, en ons fokus op beradingstoerusting en –geleenthede. Ons dank die Here vir ‘n besonder vrugbare jaar en vir elkeen se bydrae. Mag elke student, oorbruggingsberader by Radiokansel, assosiaatberader en ander oudstudente saam met sy/haar dierbares die einde van die jaar beleef as ‘n besondere geleentheid om tyd met God te spandeer, sy stem te hoor en met entoesiasme 2009 aanpak!

TOERUSTING IN BYBELSE BERADING

MODULE 2: TOEPASSINGS

Kontaksessies het plaasgevind in Pretoria by Radiokansel op 19 en 26 Julie asook op 11 Oktober. Die bywoning was baie goed en die besprekings se standaard was besonder hoog. Die assesseerders het positiewe terugvoer gegee oor studente se werkstukke. Studente is aangemoedig om met hulle te skakel vir studiehulp. Die eksamen lê nou voor en studente word sterkte daarmee toegewens!


‘n Paar Engelse studente

MODULE 4: BYBELSE BERADINGSPRAKTYK

10 studente het vanjaar die kursus voltooi. Daar is toegewyd gewerk tydens en tussen die 15 werkdae. Studente het geleentheid gekry om ‘n medestudent vir vier sessies te beraad ook om vier keer beraad te word. Daar was verder praktiese toerusting in telefoon-, brief- en eposberading. Die studieleier vanjaar was Vorster Combrink, en die fasiliteerders was Marietjie Bezuidenhoud, Herman Coetser en Kobus Roux. Sedert 2003 het daar reeds 61 persone die kursus voltooi, en hulle is deeltyds of voltyds betrokke in bedieninge waarin hulle die ABBO-toerusting gebruik, bv. in gemeentes, beroepswerk, hospitale, gevangenisse, skole, aftree-oorde, beradingspreekkamers, ens.


Die Module 4-Groep van 2008

MODULE 5: GEVORDERDE BYBELSE BERADINGSPRAKTYK

Vyf studente het vanjaar ingeskryf. Elkeen het ses een-tot-een beradingsessies met ‘n medestudent gedoen en is self ook ses keer beraad. Die werkwyse het in diepte berading moontlik gemaak. ‘n Baie hegte band is gesmee tussen die studente wat toekomstige samewerking en ondersteuning sal bevorder. Tydens elke werkdag was daar ook ‘n twee uur geleentheid om ‘n beradingstema in diepte te bespreek. Die deelname van groeplede deur voortdurende reflektering maak ook hierdie kursus ‘n besondere groei- en leerervaring.


Module 5: 2008

TOERUSTING 2009

ABBO bied vanaf Januarie 2009 die volgende jaarkursusse aan:

Kursusse 1-3 volg op mekaar. Kursus 4 is ‘n onafhanklike kursus. Ons wil graag in 2009 kontaksessies vir Kursus 1 in die Wes-Kaap en Kwazulu-Natal aanbied, maar die voorwaarde is dat daar ten minste 20 of meer studente in die betrokke provinsie inskryf.

Die minimum aantal inskrywings vir Kursus 2, 3 en 4 is 10 studente per kursus. Die inskrywings vir die kursusse sluit 15 Januarie 2009. Besoek gerus die webblad by “Opleiding” en “Jaarprogram 2009” vir volledige besonderhede oor die kursusse.

OUDSTUDENTE

Gauteng

Die lentekamp het plaasgevind van 12-14 September te Shekinah tussen Bela-Bela en Swartruggens. Die tema Traumaberading is aangebied deur Annelie Olivier. Sy is ‘n maatskaplike werker en mede-fasiliteerder van ABBO Kursus 3: Gevorderde Kursus in die Praktyk van Berading.


Kampers September 2008


Annalie Olivier: Spreker by die lenteskool

Op 16 November het Rita Malan oudstudente en oorbruggingsberaders van Radiokansel toegerus oor die onderwerp “Berading aan kinders en jongmense – ‘n Bybelse benadering”. Hierdie was ‘n besonder vrugbare byeenkoms. Rita se aanbieding verskyn op die webblad onder “Artikels”.

Wes-Kaap

Vorster Combrink het oudstudente op 9 Augustus in die Strand besoek. Die volgende sake is bespreek: ‘n ABBO-bemarkingstrategie vir die Wes-Kaap; voortgesette toerusting; die moontlike uitbreiding van Radiokansel se oorbruggingsberading na die Wes-Kaap.


'n Paar oudstudente in die Wes-Kaap

Op 15 November het die Wes-Kapenaars by Klein Joostenberg vergader. Die geleent-heid is gebruik vir onderlinge ondersteuning. Daar is besluit om in die vervolg goeie boeke uit te ruil. Dit was so ‘n geseënde oggend! Ons dank en prys die Here daarvoor! Die skakelpersoon vir oudstudente in die Wes-Kaap is Theresa van Vreden: 083 310 3823; theresaan@mweb.co.za.

WERWING VAN NUWE STUDENTE

Ons wil graag elke oudstudent aanmoedig en uitdaag om een nuwe student vir Kursus 1 vir 2009 te werf! In 2009 teiken ons veral die Wes-Kaap en Kwazulu-Natal. Indien in hierdie gebiede 20 of meer studente inskryf, sal ons graag hier kontakdae aanbied. Ons droom is dat die toerusting wat ons gee, ‘n suurdeeg in ons land sal wees onder alle bevolkingsgroepe. Op hierdie manier kan ons ‘n belangrike verskil maak!

Die bestuur het besluit om elke ABBO-student of –oudstudent ‘n fooi van R100 te betaal vir elke nuwe student wat hy/sy vir Kursus 1 vir 2008 werf, en nog R100 wanneer daardie student die kursus suksesvol voltooi. Dis belangrik dat die nuwe student op sy inskrywingsvorm sal meld wie hom/haar gewerf het.

Gedurende November was daar onderhoude oor ABBO se beradingskursusse oor Radiokansel, Radio Tygerberg en Radio Helderberg. Daar is ook inligting gepubliseer op Kerknuus wat via internet versprei word aan verskillende kerke. Op 24 November het Vorster en Marietjie Mosaiek Gemeente in Randburg besoek en die ABBO-kursusse bekend gestel. 14 persone was teenwoordig en ons vertrou dat meeste van hulle in 2009 sal inskryf vir Kursus 1.

BERADINGSGELEENTHEDE

ASSOSIAATBERADING

Verskeie oudstudente het reeds geregistreer as ABBO-Assosiaatberaders. Dié assosiasie bied die geleentheid aan ‘n oudstudent om sy/haar beradingsbediening in assosiasie met ABBO te bedryf. Assosiate se bedieninge word reeds op die ABBO-webblad bekend gestel. Skakel Marietjie by die kantoor vir meer besonderhede.

OORBRUGGINGSBERADING BY RADIOKANSEL

ABBO is sedert 2006 gekontrakteer om 24/7 oorbruggingsberading vir die kliente van Radiokansel te doen. Hier word maandeliks gemiddeld 1000 telefoonoproepe, 1000 gebedversoeke, 400 eposse, 80 briewe en 10 een-tot-een geprekke hanteer deur 32 beraders en ‘n gebedsondersteuningsgroep.

Die Here het ons in staat gestel om al die beplande doelwitte vir die jaar te bereik. Enkele hoogtepunte kan genoem word: Vanaf 1 Julie kon Vorster Combrink langer ure in sy kantoor as bestuurder van die beradingsdiens deurbring; ‘n weeklikse verslag word aan die radio-afdeling gedoen van die hoeveelheid en aard van kontakte met die beradingsafdeling en aanbevelings vir radioprogramme word gemaak; die beradings-diens is meer aggressief by die kliënte van Radiokansel bemark; kriteria vir die aanstelling van oorbruggingsberaders is gefinaliseer; ‘n gewysigde verwysingslys is geimplementeer; ‘n ondersoek na die bestaande beradingsfasiliteite is gedoen; inligting oor berading op Radiokansel se webblad is hersien; voorstelle is gedoen aan Radiokansel vir die multiplatvorm deelnemende uitsaaistrategie; die meeste beraders is by SAAP geakkrediteer; beraders kom daagliks saam vir gebed en onderlinge ondersteuning.

Oudstudente kan op twee maniere by die diens betrokke raak:

As jy geroepe voel vir enige van bogenoemde, skakel asb vir Nicolien by 012 334 1285 of epos haar by berading@radiokansel.co.za.


Oorbruggingsberaders eet saam ontbyt


Dr Roelf Petersen spreek die oorbruggingsberaders
toe tydens ‘n geselligheid op 29 Nov

KANTOOR

Marietjie Bezuidenhoud behartig studente-administrasie. Sy is op Maandae en Dinsdae en Donderdae by die kantoor en sy kan dan gebel word by 011 886 7414. Dankie vir jou puik werk, Marietjie!

BYDRAES

Bydraes vir die Nuusbrief kan gestuur word aan die kantoor: abbo@global.co.za.