HETTIE BIJKERSMA: ’N HULDEBLYK

Hettie Bijkersma, ons geliefde vriendin en suster in Christus, is oorlede op 1 Mei 2008.

Johannes 16:33

Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.

Hettie het deel geword van die ABBO-familie in Julie 2004 toe sy ingeskryf het vir die Module 1 beradingskursus. Sy voltooi Module 2 in Julie 2005 en skryf direk daarna in vir die Module 4 praktiese beradingskursus saam met Hanlie Arlow, Bessie Craggs, Lenie Erasmus, Trudie Grobbelaar en Theresa van Vreden.

In haar getuienis tydens die Module 4 sertifikaatplegtigheid in Februarie 2006, het sy die Here geloof en gedank vir sy goedheid en guns en dat Hy deur ABBO vir haar ruimte gee om Hom te ken, dien en gehoorsaam.

In 2006 het Hettie ingewillig om assessering te doen en tot op datum het sy die werkopdragte van 8 studente in 2006, 7 studente in 2007 en 9 studente in 2008 nagesien. Haar assessering is gekenmerk deur bemoediging. Sy het graag Psalm 23 aangehaal in die individuele kommentaar. Sy het studente se geestelike groei raakgesien, hulle deurgaans aangemoedig om ‘n lewende verhouding met Christus te hê en te volhard ten spyte van moeilike omstandighede. Sy het ook studente genooi om haar te besoek en sodoende persoonlike vriendskappe opgebou.

Hettie was aktief betrokke by ABBO en het moeite gedoen om die opleidingsgeleenthede, sertifikaatplegtighede en lentekampe by te woon en dit baie geniet.

Hettie was vanselfsprekend, as gevolg van haar gestremdheid, aangewese op ander mense vir hulp en vervoer, en juis in haar gestremdheid het daar seën opgesluit gelê. Deur saamrygeleenthede het kosbare en hegte vriendskappe gegroei.

‘n Hoogtepunt vir Hettie in haar opleiding en toerusting as berader, was die Module 5 Gevorderde Kursus in die Praktyk van Berading. Haar getuienis by die Module 5 sertifikaatplegtigheid in Februarie 2008 is sprekend van die verdieping in haar geloof en haar toe-eiening van haar identiteit in Christus. Hettie was geseënd met die gawe van berading. Haar vertelling tydens Module 5, waar sy met geestelike insig die gesindheid van die Bybelse berader illustreer aan die hand van die verhaal van die barmhartige Samaritaan in Lukas 10:30 – 37, sal my altyd bybly.

 
LINKS BO: Lentekamp September 07 REGS BO: Lentekamp September 06
ONDER:Saam met mede-assesseerders 2008 (Februarie 08)


MODULE 5
BO - Praktiese beradingklas 2007-08
ONDER – Sertifikaatplegtigheid 22 Feb 08

Ons dank die Here dat Hy deur Hettie se liefde baie mense aangeraak het! Ons bid haar kinders en dierbares God se troos in Jesus Christus toe!